The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Friday, June 8, 2012

Winter

Ek sal myself nou nie juis as ‘n winterpersoon beskryf nie. Van kleins af is die herinneringe wat die winter omring die van donker, koue oggende, koue voete, koue hande wat af vries op die fiets skool toe. Alles is so vaal en dood. O, en natuurlik is daar Scotch Emulsion. My ma het al voor die winter begin om my weerstand op te bou, sodat ek tog net deur die winter kan kom… Ek het groot geword in die tyd toe die gegeurde visolie net uitgekom het. Miskien was hierdie ‘n manier om dit in my keel af te kry, maar ‘n mens het die vissmaak deur al die aangeplakte geursel geproe. Dit was net eenvoudig sleg. En die Scotch Emulsion het vir my jare lank die simbool van winter gebly – ‘n tyd waardeur ‘n mens maar net eenvoudig moet kom.
Tog, hoe meer ek daaroor gedink het, hoe meer het ek begin bessef dat dit darem hartseer is dat ek ‘n kwart van my bestaan op aarde gaan omwens, as ek nooit iets in ‘n die winter kan kry wat my verhoed om die tyd om te wens nie. So ek het begin soek, soek na dinge wat die winter meer aanloklik sou maak. Nou, na 33 jaar se winters agter die rug kan ek met trots sê dat alhoewel ek nooit ‘n wintermens sal wees nie, dat ek tog elemente van die winter kan waardeer en die winter as ‘n geheel kan respekteer.


Soos ‘n pomelo, is die winter iets wat jy moet leer waardeer. Aanvanklik as jy hom proe is dit die bittere koue wat jou asem wegslaan, maar as jy moeite doen om dieper te teug dan vind jy dat die winter tog ‘n soete bekoring het wat in hom weggesteek lê: kaggelvuuraande, om jou hande om ‘n kommetjie sop te vou, lepel lê, warm bedsokkies en ‘n stomende bad.


En wanneer jy so skyfie vir skyfie die winter aanpak, dan vind jy uit dat die winter sy plek in jou hart het. Jy sien hoe dit kans gee vir rus, sodat daar weer plek gemaak kan word vir die nuwe lewe wat die lente bring. Jy sien hoe die winter gesinne saamsnoer, almal onder een dak in die koue.


Jy sien hoe die winter jou leer om altyd die beste uit elke situasie te haal, selfs al is dit nie altyd omstandighede wat jy sou verkies nie. Ons kan nie altyd net somertye beleef nie, maar tog wanneer die winter van hartseer en teënspoed oor ons pad kom, sal die wat diep genoeg kyk tog vind dat daar uit elke situasie iets mooi en positief kan groei – selfs in ysige winterkoue.

No comments: