The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Monday, September 24, 2012

Aanmoediging

Daar is ‘n rede hoekom woorde soos tuisveldvoordeel bestaan. Nie net ken die sportman die veld waarop hy uitdraf nie, maar die bemoediging en aanmoediging van ‘n span se eie ondersteuners laat nuwe moed deur enige persoon se are vloei.

Ons word gebore met behoefte aan erkenning. Ons meet onsself so dikwels aan die reaksies van ander mense. Wanneer alles om ons verlore lyk, al die krag uit ons gedreineer dan is daar een ding wat ons so dikwels kan deurdra, een ding wat ons kan laat voortgaan tot die verbasing van onsself en ook ander rondom ons. Die aanmoediging van iemand wat ons liefhet.

Ek het dit altyd geweet. Daar was al soveel tye wat ek self gevoel het asof ek nie kan aangaan nie en tog het. Wanneer ek terugkyk was daar altyd iemand naby, iemand met ferm liefde wat in my bly glo het.

Maar hoe vroeg al is die mens toeganklik vir die effekte van aanmoediging? Die huidige doelwit in ons huis is om ons kleine bondeltjie vreugde te help kruip. Ons gee hom genoeg “tummy-time”- heelwat meer as wat hy graag so wou, want dit is net so paar minute dan is die mannetjie die ene frustrasie. Hierdie posisie kan hom beslis nie bring waar hy wil wees nie. In plaas van vorentoe gaan dit net agteruit…

So het ek hom sit en dophou. Die ene bondel frustrasie. Die gesiggie spreek van moedeloosheid. Ek kry hom jammer, maar aan die anderkant wil ek hom so bietjie druk om voortuit te probeer kom. Soos enige lojale mamma het ek die aanmoedigingspad probeer – hande geklap, hom aangeprys. Die reaksie was verstommend. In ‘n oogwenk het die gesiggie opgehelder, geen sprake meer van die frustrasie en moedeloosheid vantevore nie.

Meer as ooit tevore wou hy net vorentoe, want as mamma in my glo kan ek dit mos doen.

Die perfekte einde vir hierdie sketsie sou seker gewees het as ek nou geskryf het dat onder aanmoediging en toejuiging van sy mamma het Andreas dit reggekry, hy kan kruip!

Maar nee, hierdie is beslis nie ‘n feeverhaal nie. My seuntjie seil nogsteeds agteruit inplaas van vorentoe, maar ek sal bly aanmoedig, want uiteindelik is dit die belangrikste: dat ons almal iemand het wie in ons glo (selfs al loop dit nie uit op sukses nie).



No comments: