The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Sunday, September 16, 2012

Wonder vs. Weet

So twee weke gelede was ek besig om reg te maak vir ‘n besigheidsreis Kaap toe. So tussendeur die pakkery besef ek dat ek nooit die weervoorspelling geraadpleeg het om sodoende my klerekeuse te dikteer nie.

Geen probleem nie, was Mario se woorde – ons kyk sommer gou op die Blackberry se “weather app”.

Ek hoef nie vir een oomblik meer te wonder oor wat die weer gaan doen nie, die weervoorspelling en enige antwoord op die kleinste vraag waarop ‘n antwoord my nog ontduik het, is sover van my af as die palm van my hand.

Tye verander, en so saam met tye wat verander, verander sekere aspekte van die mens daarmee saam.

Ek onthou nog die tyd van ‘wonder’as kind. Daar was soveel dinge wat mens kon laat wonder. ‘n Mens het gewonder oor Kersvader – waar woon hy, wie is hy rerig? Later jare het mens begin wonder oor waar jy vandaan kom, hoe dinge werk en wie en wat jy graag wil word.

Dit was net jou pa of ‘n slim onderwyser by die skool wat dalk die antwoorde op al die wonders in jou kop gehad het. Maar ook nie altyd nie. Soos die tyd aanstap en jy al ouer geword het, het jy besef, daar sal vrae wees wat selfs die slimste onderwyser nie sal kan antwoord nie. So, dan het jy maar net aanhou wonder.

Vandag se kinders hoef nie meer te wonder nie. Hulle het nie meer ‘smart’onderwysers nodig nie, nee, almal het nou eerder ‘smartphones’ en ipads.

In plaas van om te wonder, kan elke kind nou weet. Die wat bly wonder, bly agter.

Op die oog af klink dit wonderlik. Is kennis tog nie uiteindelik mag nie?

Maar dit was tog asof die heimwee oor my toegesak het,  die oomblik toe ek besef het dat die onontbeerlike tegnologie van ons hedendaagse era my kind uiteindelik van wonder in al sy vorme sal ontneem.

Want hand-aan- hand met wonder loop verwonder. Hoe sal die wat alles weet, wat al die antwoorde op hulle vrae het, ooit hulleself onvoorwaardelik aan verwondering kan oorgee?

Sal dit nie hartseer wees wanneer die dag aanbreek wanneer niks meer ons asems wegslaan nie, wanneer ons kennis verwondering by die agterdeur uitvee.

Ek weet nie hoe ek dit sal regkry nie, maar te midde van die kennisontploffing wat tegnologie saam met dit bring, gaan ek my bes probeer om steeds aan my kind die geskenk van verwondering te gee.

Hulle hoef nie te gou te weet waar Kersvader vandaan kom nie….

No comments: