The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Thursday, April 10, 2008

Vreugde

"All joy reminds. It is never a posession, always a desire for something longer ago or further away."
CS Lewis - Surprised by joy

Oomblikke van vreugde is vlietend. Soos spookasem in die mond. Sodra jy dit begin proe het die substans daarvan reeds onder die mag van jou speeksel geswig.

Vreugde is 'n woord wat met respek hanteer moet word. Miskien juis omdat soveel mense tevergeefs daarna soek, het dit vir my 'n heilige konsep geword. Elke dag is ons op 'n pelgrimstog opsoek na die sleutel om die skatkis van vreugde oop te sluit. Vir jare lank het ek ook geglo dat daar 'n oomblik sal aanbreek waarin die slot sal draai en ek myself lewenslank sal kan verlustig in vreugdeskatte. Bitter was my teleurstelling toe ek al hoe meer en meer begin besef: ek moet gereed wees, geestelik gesnoei, om vreugde te kan omarm.

Gestroop van pretensie en voorafbepaalde idees, moet ek bereid wees om myself in vreugde se arms te plaas. Vreugde spreek tot die individu, dit is nie 'n adrenalieninspuitingservaring wat gemik is op massagenot nie. Juis dit wat vir ander sinneloos mag lyk mag jou hoofbron van vreugde wees.

Vreugde laat sy stem hoor in die kelderkamers van die siel, op vergete plekke laat hy hartstog herleef. Sy gereedskap: die alledaagse. 'n Blom, 'n ou bekende radiowysie, die reuk van pannekoek, sand in jou baaibroek, rooiwyn by kerslig, 'n stoppelbaardsoen, hondelyfies - alles vreugdevonke.

Vreugde wil nie geld kos nie, daarvoor is hy te duursaam.
Vreugde is nie te koop nie, veel eerder daag hy jou uit om te begin soek na die dinge in die lewe waaraan mens nie 'n prysetiket kan hang nie.

Miskien soek ons so hard omdat ons nie weet waarna ons soek nie. Ons jaag op peperduur vakansies, om net moeër terug te kom, koop nuwe karre, huise, klere, verander van lewensmaats - alles in 'n poging om meer gelukkig te wees. Vir 'n vlietende oomblik mag ons dalk meer gelukkig voel, maar geluk is nie vreugde nie. Geluk is soos gaskoeldrank, as die borrels verdamp het is die dimensie weg.

Ons soek verkeerd. Vreugde kom vir 'n oomblik verby - partymaal moet ons mooi kyk om hom te herken. Maar as jy eers een keer in sy gesig gekyk het, sal jy nooit weer dieselfde mens wees nie.

Vreugde kweek vreugde. Dit wat hy agterlaat word soos rimpels op 'n dam, dit kring uit om aan ander te raak. Om dooie dele in jou lewe wakker te skud.

Ek kan vreugde nie koop nie, nie in 'n hok sit, raam of ten volle beskryf nie. Al wat ek kan doen is om dit te ervaar, te deel, dit in te asem, te bewonder en dag vir dag in verwondering te staan ek kyk hoe dit deur my lewe verfkwas.

No comments: