The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Thursday, April 10, 2008

Reisiger

Reisiger - die woord dra vir my swaar aan wysheid. Voor my sien ek iemand met ervaring wat lyne op sy gesig uitkerf, wat in 'n waas van herinnering die verlede instaar en sy bruin bokstas vol lughaweplakkers oopmaak om, soos 'n towenaar, daaruit verlore skatte, van lande, wat onuitspreekbaar klink, op te tower.
Elke keer wat ek blinkgepoetste reisbrosjures deurblaai, klim 'n hartseer in my bors in, soos wanneer die skoolbus vir 'n graadeentjie wegry. Dit is erger as verlatenheid, 'n gevoel êrens tussen agtergeblewenheid en selfverwyt.

So het ek seisoen vir seisoen bly wens dat ek interessante begrippe soos aankomssaal, beenspasie, vlugvertraging, moltrein en jeughostel deel van my ervaringsveld kon maak. Maar soos die begroting nooit wil klop nie (wat is nuut?) skuif die oorsese reis al laer af op die prioriteitslysie.

Reis is so 'n heilige begrip. Om te reis is sekerlik een van die hoogste pieke van genot wat 'n mens kan bereik. Dit sou eintlik hartseer en wreed wees as dit net vir die rykes, gesondes en mobieles beskore sou wees.

Maar ek het besef: om te reis is gelukkig nie net beperk tot vliegtuigritte en besoeke aan vêr en vreemde lande nie. Elke dag behoort 'n reis te wees. 'n Reis na ons wese, ons bestaan.

Daar is soveel vorme van reis. Dit besef ek elke keer wat ek op die Internet ingaan, met 'n boek in die bed klim, deur 'n tydskrif blaai, deur die veld stap, my man se hand om my lyf voel, voor my kas staan en nuwe klerekombinasies uitprobeer - om maar 'n paar te noem.
Al die ervaringe is mini reise wat ons in ons daaglikse lewe kan inkorpereer.

Want die antwoord lê in ontdekking. Solank die moontlike uitkomste vanaf die beginpunt divergeer, solank ons keuses het, kan almal reis.

Die geheim lê daarin - ons moet aanhou droom en glo dat ons 'n verskil kan maak waar ons is. Solank ons nuuskierig bly, aanhou ontdek, bly ons in transit - bereik ons die hoogste status: die van ewige reisiger.

No comments: