The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Monday, April 14, 2008

Om 'n passie te hê

Ons almal wil graag soos William Wallace wees, 'n man met 'n passie om 'n nasie te red. Of soos Beethoven, die musiek in ons kop hoor eggo, tot ons dit noodgedwonge op papier vaspen. Ons almal wil met Charlize Theron se passie Hollywood aan ons voete hê, terwyl ons 'n Oscar in ons hand hou.

Ons almal wil voel ons het 'n verskil gemaak, 'n naam op mense se lippe geword. Tog struikel ons nogsteeds elke oggend uit die bed, word ons tot Nescafe gedryf om die slaap uit ons breine te skud, sit in verkeer vas op die maat van Highveld Stereo en werk 8-5 in 'n poging om die pot aan die kook te hou. En elke dag word die vraag groter - wat is my eintlike doel hier?

Ja, mens moet dankbaar wees vir werk, gesondheid en kos op die tafel, maar wat het geword van al ons kinderideale? Om te wees dit waarvoor jy bestem is, om dit wat in jou hart geskryf staan elke dag, deur jou doen en late uit te leef.

Daar is nie 'n meer vredevolle en verblydende gesig as om iemand met 'n passie vir dit wat hy doen te aanskou nie. Die konsentrasie en perfeksie waarmee elke taak gedoen word, gemeng met die genot wat spruit uit die volvoering van die taak alleen, is onafhanklik van ander se goedkeuring en 'n gedrewendheid na materialisme.

Jare lank het ek mense beny wat 'n enkele passie in die lewe najaag, want dit is onvermydelik: as jy jou passie uitleef is sukses 'n vanselfsprekende newe-produk.

Ek glo elke persoon word gebore met 'n doel, 'n passie om op aarde uit te leef. Maar wat gebeur dan tussen kindwees en grootword? Hoekom verloor ons, ons visie en eindig op in 'n beroep gedryf deur roetine, vol frustrasie, waarin ons net bly om ons rekeninge te kan betaal?

Wat kan mens doen om passie terug te wen?

In my soektog na verlore passies het ek 'n paar interessante ontdekkings gemaak:

  • Die voorliefdes wat ek vandag het, het ek al van kinderdae af. Ek en my man is albei lief vir stap en kamp. Hoe nader ons aan die bos is hoe gelukkiger is ons. Is dit dan 'n verrassing om te weet dat ek van kleins af met al wat 'n kombers en besemstok is, tent opgeslaan het in die agterplaas en toe al gesê het: as ek eendag groot is gaan ek vir baie dae aaneen net met 'n sak op my rug die veld instap? Dit is die moeite werd om historiese navorsing te gaan doen: ou albums nader te trek, pa en ma te raadpleeg oor jou kindergewoontetjies en ideale. Net dalk ontdek jy die passie wat jare lank motgevreet eenkant lê en die fut in jou dag kan terugsit.
  • Die ander passie-feit wat my baie lank gevat het om te begryp en ook veroorsaak het dat ek in vele cul-de-sacs beland het, is die opsoek-na-my-enigste-passie-sindroom. Daar is baie mense met net een passie, gebore vir een doel op aarde. Hulle kan niks anders wees as wat hulle is nie en die vervulling van een lewensdoel gee vir hulle selfvervulling. Ongelukkig kon ek self nog nooit net een iets kry wat genoeg is om my te voltooi nie. Die fout wat mens dan geneig is om te maak is om jouself te probeer forseer om net van een iets te hou. In die proses gaan mens se ander belantstellings meestal dood en eindig jy op as 'n ongelukkige bondel sukses op net een gebied. 'n Gefrustreerde besigheidsman wat net syfers leef, dink en eet. 'n Ongeduldige dokter wat nie kan bekostig om vrye tyd te geniet nie, omdat hy nie sal weet wat om daarmee te maak nie. Gun jouself meer as een passie, leef jou belangstellings uit. Streef eerder daarna om 'n interessante mens te wees as 'n suksesvolle een.
  • Die ontdekking van jou passies begin by selfontdekking. Ontspan, vergeet van ander se uitsprake of opinies teenoor jou. Leerken jou swak punte, sterk punte, voorkeure en jy sal verbaas wees om uit te vind dat jy op 'n dag jou passies spontaan begin uitleef.
  • Onthou: passies kan nooit gekoppel word aan geldelike vergoeding of enige vorm van materiële voordeel nie.
  • Dit is alles goed en wel om jou passies te ken, maar ongelukkig het passie bietjie meer om die lyf as om net geken te word. Dit moet ook uitgeleef word. Op hierdie punt moet selfdissipline intree. Soos 'n wilde perd moet passie getem word, moet 'n saal op die rug en toom in die bek geplaas word, wat passie sal lei op die paaie wat by ons lewenstyl aanpas en wat ander rondom ons inag sal neem. So nie kan jou passie op die lantermyn 'n frustrasie en teelaarde vir rusie word tussen jou en jou geliefdes. 'n Passie wat met verantwoordelikheid uitgeleef word verg fokus en selfkennis. Dit is baie maal 'n eensame pad. Jy moet aanhou glo en werk tot by jou doelwit wanneer ander miskien al moed opgegee het.

Om 'n passie te hê is 'n voorreg, maar 'n voorreg wat harde werk, selfdissipline en vasbyt verg. Soek jou passies, vertroetel hulle - so ontdek jy jou ware self.

No comments: