The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Tuesday, April 15, 2008

Hande

Anatomie disseksie in tweede jaar was, anders as wat mens sou dink, vir die deursnit mediese student allesbehalwe 'n traumatiese ervaring. Wat meeste van ons daarvan oorgehou het was 'n formalienjas, wat toegang tot die huis geweier is en hope disseksiegrappies, hopeloos te obskuur om in goeie geselskap oor te vertel.

Die gesig, die oë, die hart, selfs die liggaamsdele wat daagliks om spesifieke redes deur klere bedek word, het sonder enige emosionele wroeging onder die skalpel gesneuwel.

Maar hulle het die beste vir laaste gebêre. Die dag toe die hand op die tafel lê, daardie dag het my eie hande gebewe, ek wou anderpad kyk. Hoe kan ek hierdie unieke, volmaakte liggaamsdeel aan flarde sny onder die dekmantel van die akademie?! Vir die eerste keer het ek besef dat hierdie kadawer eens op 'n tyd 'n mens soos ek was.
Na hierdie ervaring het ek vir die eerste keer anders na hande begin kyk.

Die hand is een van die mees ingewikkelde anatomiese strukture (vra maar vir 'n mediese student). Spiere en senuwees is delikaat saamgeweef in gekonsentreerde vorm, sodat die fynste bewegings akkuraat uitgevoer kan word. Selfs die brein herken die hand se belangrikheid. Penfield was 'n neurochirurg wat 'n homonculus opgetrek het waarmee hy die areas van die brein uitgelê het wat kommunikeer met elke liggaamsdeel op motoriese, sowel as sensoriese vlak. Die area in die brein wat handfunksie beheer, beslaan in verhouding die grootste oppervalkte van al die organe. Die konsentrasie senuweepunte in die hand en vingerpunte is baie hoog, om ons instaat te stel om, deur ons hande, die wêreld sonder sig te verken.

So, in my tweede jaar het die hand my vinnig geleer om met respek na hom te kyk.

Hande vertel hulle eie storie.
Die eelte op die handpalms van 'n arbeider praat van dae se harde werk. Die knop aan my middelvinger verraai die hoeveelheid tyd wat ek 'n pen vashou. Party hande maak gereeld 'n draai in die skoonheidsalonne, ander boer net in grond en water.

Hande praat.
'n Hand kan nee dankie sê, hande kan wegdruk, nadertrek, vertroos, tugtig, uitwys. In swaarkrytye het ons hande genoeg empatie om saam te bewe, te sweet...
Deur die hande van die kunstenaar vloei meesterstukke, word gedagtes, perspektiewe woordeloos verwoord.

Hande is uniek.
Hande kan deel word van massa-aksies, rondgeswaai word in protes, maar steeds bly elke hand uniek. Geen vingerafdruk kan homself herhaal nie. 'n Handskrif het net een baas. Aan jou dade, dit wat jou hande verrig, sal jy geken word.

Hande het oë van hulle eie.
Hulle kan voorwerpe sonder sig herken, help blindes om die wêreld van literatuur te verken. Deur die oë van ons hande beleef ons ons geliefdes, versterk ons bande met minder bekendes.

Ons hande kan so baie uitrig, juis daarom moet ons ons hande elke dag met verantwoordelikheid gebruik. Ons moet eg bly aan onsself. Ons hande toelaat om elke dag die storie van die hart te vertel.

Niemand hoef ooit skaam te wees vir sy hande nie. Dra met trots jou hande - dit is 'n verlengstuk van jouself.

No comments: