The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Sunday, July 3, 2011

Namib: Dag 10 Swakopmund - Brandberg

Nou verstaan ek wat afgeleë beteken.

Al op met die kus – woestyn aan die een kant en see aan die ander. Alles hier is plat. Dit is die land van die geharde visserman.


Plek-plek kry ons vissermanne met hulle lyne in die water. Ons neem fotos by Wlozkasbaken en ’n wrak wat op die strand lê. Dit is die somtotaal van wat tussen Swakopmund en Hentiesbaai gebeur.


Hentiesbaai het my nogal verras. Hier is meer lewe as wat ek my voorgestel het. Soos Carike Keuzenkamp sing – hierdie is ’n visplek. Hiervan getuig die Skubbebar. Hierdie is nie sommer enige bar nie – hierdie is ’n bar met ’n doel, want hier kan jy jou kar was, vis was en keel was. Wat wil jy nou meer doen in die geweste?


Enige winkel wat aas verkoop in Hentiesbaai sal nooit uit besigheid uit hardloop nie.


____________________________________________

Ons volgende stop is binneland toe by die Spitzkoppe. Ons moet N$ 90 betaal om daar deur te ry, blykbaar ten bate van die “community tourism”. Mario dring aan op ’n bewys van betaling, wat sy darem kon gee. Die faktuur is ewe plegtig gestempel: Spitzkoppe Community Based Tourism, met ’n posbusnommer en al.


Die koppe is indrukwekkend. Ongelukkig is ons effens haastig, so ons neem ’n paar fotos en moes aanstoot.






Die res van die dag het ons uitgevind heokom so baie mense skryf dat die afstande in Namibië bedrieglik kan wees. Ons het meestal op D-paaie gery – hoofsaaklik teen 40 km/uur. Die paaie is plek-plek erg verspoel en ons moes selfs die rivier in vloed oorsteek. Absolom het tot ons redding gekom en vooruit geloop om te te wys waar die rivier vlak genoeg was om oor te steek.


Die pad tussen die Spitzkoppe en Uis was glad gesluit weens die vloede.





Ons kom laatmiddag eers by Brandberg White Lady Lodge aan. Dit is ’n ware oase in ’n semi-woestyn. Die geboue lyk soos ’n prentjie uit die Wilde Weste. Die kampplekkie is baie mooi – onder die bome teenaan die rivier. Ons is net betyds tent opgeslaan voor die son sy laaste strale oor die berg laat streel.


Terwyl ons om die kampvuur sit word ons onverwags begroet deur ’n boskoor. Van die locals het vir die oorsese toeriste in die kamp gesing. Daar is min dinge wat kom by Afrika-koormusiek in die bos.

No comments: