The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Sunday, July 3, 2011

Namib: Dag 11 Brandberg - Etosha

Ons slaap vanaand in Etosha…

Ons het al meer as 4000 km gery. Sommige dele, veral a.g.v. die onlangse reën het die ry moeilik gemaak. Namibiërs verstaan droogte, hulle is gebore en getoë in ’n land waar water ’n skat is, ’n rariteit.


Aan die anderkant wanneer die hemel die dag sy sluise oopgooi word dit amper ’n krisis. Die land is nie gerat om massas water te hanteer nie. Paaie word gesluit weens die vloed, kampeerplekke oorvloei – hierdie land verstaan droogte, nie reën nie.


Soos ek nou hier sit en skryf, sit ons in Okakeujo, een van die hoofkampe in Etosha. ’n Jakkals het al ’n draai deur die kamp gemaak, ons het al leeus en hiënas gehoor. Ek sit en skryf by die flou liggie van ons Coleman kamplig en voel soos ’n ware bosreisiger. Dit is ’n vorreg om so deel van die bos te kan wees.


Ons pad tot hier het vanoggend by die Brandberge begin. Ons besluit om tog die 30 km te ry om die White Lady te gaan sien. Sy is to al die tyd ’n man, maar die Duitser wie haar ontdek het, het dit nie geweet nie. Jy betaal N$ 120 vir die Namibiese Toerisme Raad, maar dit gee vir jou ’n begeleide toer van 5 km tot by die White Lady en terug. Ons toergids was Colin – kaalvoetgids wat oor-en-oor bewys het dat mens niemand ooit op sy baadjie moet trakteer nie.


Sy T-hemp is al gate ingeval, hy het ’n metaal besemstok as staf en bad nie gereeld nie, maar ons kon nie vir ’n beter gids gevra het nie.

 

Hy was ’n lopende veldensiklopedie. Hy ken al die plantname: beide in Latyns en die gewone name. Hy het ons breedvoerig en die geologie van die area uitgelê en oor al die geitjies en akkedisse vertel. Wat my sekerlik die meeste sal bybly is hoe hy telkens elke stukkie papier wat hy teëgekom het, hoe klein ookal opgetel het.



Ons het vir ’n oomblik die voorreg gehad om die Namibiese bos deur sy oë te beleef. En die White Lady: nou ja, sy is toe ’n man. ’n Heler wat uitgebeeld word tydens ’n heëlingsritueel. Sy het haar eie waterval en in die agtergron pryk Konigstein, die hoogste piek in die Namibië.


Van hier af het Mario ingestem om ’n ompad te ry oor Omaruru. Die rede: Tikoloshe, ’n houtsnysentrum waar Kavango kunstenaars die hout toelaat om hulle te inspireer. Die resultaat is ’n unieke kunswerk.





Natuurlik kon ons nie anders nie – ons moes iets koop. Mario is ’n kostelike ystervarkie ryker.
Omaruru is ’n netjiese dorpie met ’n paar oulike koffie- en souvenierwinkels. Ek moes hier maar anderpad kyk. Etosha wag... Gelukkig vir ons was dit teerpad van hier af, so die 300 km wat oor was tot in Etosha kon ons in so 3 ure kafdraf.

No comments: