The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Wednesday, July 27, 2011

Verstaan


As ek maar net kon verstaan. Is verstaan nie ’n wonderlike belewenis nie? Daar die oomblik wanneer insig, soos ’n wit lig die donker wêreld van verwardheid en misverstand binnedring.


Party van ons neem ’n bietjie langer om die lig te sien. Vir party kom verstaan na tye van oordenking en repitisie. Ander weer verstaan beter wanneer iemand iets verduidelik en in perspektief plaas. Hoe ookal die verstaanproses in jou grysstof neergelê is, die oomblik van verstaan bly vir almal ’n belewenis.


Ongelukkig is daar sekere dinge wat ons sukkel om te verstaan. So dikwels is dit ’n gebeurtenis, veral wanneer dit ’n geestelike impak op ons lewens het. Net soos Totius geskryf het na sy seun deur weerlig doodgeslaan is – die oomblik wat ’n mens probeer verstaan dan tas jy in ’n doringbos vas, het ons al almal doringboservarings gehad. Met elke hoekom en waarom wat uit ons hart geskreeu word kom die doringskerp pyn terug.


Dit is juis die dinge in die lewe wat ons niks aan kan doen nie, die waarvoor ons magteloos moet staan en toekyk wat ons sukkel om te verstaan. Die menslike psige is geprogrammeer om te poog om jou welstand in ’n staat van ekwilibrium te hou. Aanvaarding vorm ’n groot deel uit van die proses van balans. En heel menslik wil ons gewoonlik eers iets verstaan, voor ons dit wil aanvaar.


Nou hoe gemaak met dit wat ons nie kan verstaan nie? Hoe gaan ons ooit dit kan aanvaar?


Ek het lank hieroor gedink, want in my eie lewe is daar soveel situasies wat ek moet aanvaar, maar nooit sal kan verstaan nie.

Ek glo ook dat ons nie altyd bedoel is om alles hier op aarde te verstaan nie. Paulus beskryf dit so mooi in Korintiërs:


“Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.”


Daar is wel ’n manier om oor die verstaan-tameletjie te kom. Die antwoord lê in die woord verstaan self.


Ver – staan. Ons moet dikwels vêr staan. Weg staan van die situasie af. Ons raak meestal so vasgevang in die detail van dit wat ons probeer verstaan dat ons die geheelbeeld miskyk.


Deel van die verstaanproses is om terug te staan. Rustig te raak. Vrede te maak. Dit is nie altyd nodig om alles te weet om te verstaan nie.


Verstaan kom partymaal in eenvoud. Dit spreek deur empatie, liefde, geloof en hoop tot ’n mens. Verstaan kan uittroon bo chaos sonder dat dit gebou word op feite.


Staan vêr. Leer verstaan met die hart.

1 comment:

Anonymous said...

sjoe maak sin vir my... dankie Ri...