The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Wednesday, January 25, 2012

Van verwagting na afwagting...

Vir die afgelope 9 maande kyk ons familie met verwagting uit na ‘n nuwe lewetjie wat deel van ons bestaansraamwerk gaan word.
Deel van die verwagtingsproses was voorbereiding. Ons het saam gedroom oor sy koms, gepraat daaroor, gelag daaroor. Gebid vir sy gesondheid, sy groei, sy toekoms… Soms moes die kop nog so bietjie skoon kom, dit is asof die realiteit van wat wag nog nie heeltemal nesgemaak het nie.


Na die proses verstaan ek heeltemal hoekom ‘n vrou vir 9 maande ‘n moet wag vir die nuwe wese om hulle lewe te betree. Die verwagtingsproses is ‘n ware voorbereiding van liggaam, gees en siel.


Die verwagting word verder ondersteun deur die veranderinge wat mens se liggaam ondergaan. Na hierdie ervaring glo ek dat hormone sekerlik die mees kragtigste substance op aarde is. Jy is oorgelewer aan die werking van hormone. Elke dag beleef mens ‘n nuwe ervaring – daar is die mislikheid van die eerste trimester, dan die energie en ervaring van lewe daarna en dan kom jy by die derde trimester… By hierdie stadium het mens eenvoudig net verby enige potensiaal gegroei. Geen klere pas meer nie, geen bewegings word meer grasieus uitgevoer nie. Aan die einde van die dag voel jy eintlik nogal trots op jouself, jy het vandag ‘n marathon voltooi – al het jy net opgestaan, aangetrek, by die werk gesit en terug gery. ‘n Mens het al vergeet hoe jou voete gelyk het onder al die swelling.


Dit is in hierdie laaste paar weke wat verwagting skielik homself in afwagting omskep. Die voorbereiding is klaar gedoen. Meer voorbereid (wat nogsteeds nie veel beteken nie) kan jy nie wees nie.


Al wat mens nou net kan doen is om die tyd af te wag. Aftwagting het ‘n ander implikasie. Jy is nou reg, jy tel die dae. Saam met afwagting kom altyd ‘n graad van ongeduld, soos ‘n kind wat die slapies aftel tot by Kersfees.


Ons geskenkpakkie is ook nou so te sê reg om oopgemaak te word – miskien kort die pakkie net ‘n strikkie om.


Ons kyk uit met verwagting vir die afwagting om tot ‘n einde te kom.

No comments: